Ek het 'n duisend keer probeer
om oor jou te skryf,
maar elke, elke keer
was dit te seer.
Uiteindelik vanaand skryf ek meer
as net jou naam.
Ek kan skryf oor jou fiets en vellies,
jou hande en jou oë
sonder om bitter te wees.
Ek kan selfs glimlag,
want lank gelede was daar 'n dag
of twee
dat jy my maatjie was.
Toe kon ons onder die sterre lê
en skinder en oordeel en lag en
droom oor die lewe wat ons wil hê.
Ons was wyser as wat ons nou is:
'n Duisend keer wil vir jou hallo sê,
maar elke, elke keer
is dit te seer.
Dalene de Vente 2024